God het 'n groot en heerlike plan en doel vir jou lewe wat Hy gereed is om aan jou te openbaar wanneer jy gereed is om dit te ontvang!
Neem nou 'n stap van geloof!
’n Modelgebed vir iemand wat die Here wil vertrou vir die vervulling met die Heilige Gees en die oorwinningslewe.
Dierbare Here Jesus Christus, ek verstaan dat U aan die kruis van Golgota met U eie Bloed betaal het, nie alleen vir my sondeskuld nie, maar ook vir my volkome verlossing en bevryding van die mag van sonde en my sondige natuur! Ek verstaan ook dat U 'n wonderlike plan van oorwinning en vrugbaarheid vir my lewe het en dat U my wil vul met U Heilige Gees!
Ek kom in hierdie oomblik in diepe verootmoediging na U troon van genade toe. Ek bely dat my lewe nie op U standaard is nie! Ek erken die verdorwenheid van my eie sondige natuur! Ek bely dat ek nie oorwinning oor sonde en my sondige natuur het nie en dat ek 'n lewe van geestelike neerlaag lei. Ek kom kniel nou in diepe berou oor my eie sondige toestand, my selfgesentreerdheid en my ongeloof by die kruis van Jesus. Ek bely ook elke sonde waarvan ek bewus is in my lewe. Was my rein van elke sonde in die Bloed van die Lam, maar skep ook vir my 'n rein hart, O God! (Bely elke bewuste sonde by die naam voor God, en sluit elke toegangspoort vir Satan en sy bose magte deur Jesus se bloed, in geloof.)
Ek draai hierdie oomblik my rug op elke sonde in my lewe en ek sluit 'n verbond met U om my te onderwerp in gehoorsaamheid aan U Woord, U wet, U wil en U plan vir my lewe! Ek gee in hierdie oomblik my sondige natuur oor om saam met Christus gekruisig te word, en ek neem my posisie in as gekruisigde saam met Christus in die geloof! Ek (plaas jou eie naam hierin) is saam met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my; en die lewe wat ek nou nog hier in die wêreld lewe, leef ek deur geloof in die Seun van God wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê! (Gal 2:20)
Ek kom gee my hele lewe, insluitende my WIL, INTELLEK en EMOSIE algeheel en onvoorwaardelik aan U oor! Alles wat ek is en wat ek besit, gee ek aan U sodat U U hemelse plan in en deur my lewe tot uitvoering kan bring! Wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus! (Fil 3:7-11) Kom neem asseblief beheer oor van elke terrein van my lewe! Vul nou my hart en lewe met U Heilige Gees!
Dankie vir die beloftes van U Woord en ek eien in hierdie oomblik elke belofte in U Woord vir myself toe in geloof! Ek glo U wanneer U sê dat U dié beloon wat U met hulle hele hart soek! Ek glo dat U nou volle beheer van my lewe oorgeneem het deur U Heilige Gees. Deur die geloof kom neem ek ook nou my opstandingsposisie en oorwinnaarsposisie in op grond van U Woord, in die Naam van Jesus Christus my Here! Ek loof en prys U, Here Jesus! Ek het U lief, Here Jesus! Amen.
© Kopiereg 2012 Scripture Educational programs.
Alle regte voorbehou. | Privaatheid | Aanspreeklikheid | Kontak |
'Hoe Om Met Die Heilge Gees Vrevul Te Word' is 'n program van Projek KuberWêreld, 'n internet evangelisasiebediening van Scripture Educational Programs, 'n inter-denominasionele dissipelskap- bediening onder leiding van Elmer en Nansie Grobler. Vir meer besonderhede besoek ons webblad:
sepprograms.com
Drie dinge wat jy moet weet:
1. God het ’n hemelse skeppingsdoel, dinamiese plan en ’n koninklike erfenis vir jou van geestelike oorvloed, oorwinning, en ’n Geesvervulde lewe.
2. Jou eie sonde en jou sondige natuur is die enigste rede waarom jy nie God se doel en plan vir jou lewe deelagtig word en die volheid van die Heilige Gees, Sy erfenis, oorvloed, en oorwinning in jou lewe ervaar nie.
3. Jesus Christus is God se volkome en enigste voorsiening, en die mens se volkome en enigste oplossing vir die probleem van sonde en jou sondige natuur.
Drie dinge waarop jy moet reageer in gebed:
1. Geloof! Ongeveinste geloof in Jesus Christus, Sy kruiswerk en Sy Woord, is die sleutel tot ’n Geesvervulde lewe, Sy oorvloed, oorwinning, en die volheid van Sy erfenis. "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek." Heb 11:6.
2. Bekering! Geloof in Jesus Christus, Sy kruiswerk en Sy Woord, behels ’n heelhartige bekering van, en klaarspeel met alle doelbewuste sonde. "... maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie." Jes 59:2.
3. Algehele oorgawe! Geloof in Jesus Christus en Sy kruiswerk behels ’n sterwe aan jouself, jou sondige natuur en jou eie natuurlike begeertes, belange en prioriteite; en ’n algehele en onvoorwaardelike oorgawe van elke terrein van jou lewe aan Hom - gees, siel, en liggaam - tot gehoorsaamheid aan Sy Woord, Sy wet, Sy wil, en Sy plan vir jou lewe! "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug." Joh 12:24.
(Hierdie is nie ‘n wettiese of slaafse navolging van een of ander stel reëls of wette nie - dit is`n posisie wat jy moet inneem in geloof in terme van Rom 12:1: "Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer -dit is julle redelike godsdiens.")
